RESEP : Maklike Tuisgebakte Witbrood



  

[Breadmaking is] one of those almost hypnotic businesses, like a dance from some ancient ceremony. It leaves you filled with one of the world's sweetest smells... there is no chiropractic treatment, no Yoga exercise, no hour of meditation in a music-throbbing chapel that will leave you emptier of bad thoughts than this homely ceremony of making bread.


— M.F.K. Fisher, The Art of Eating


Tannie Fisher was in die vorige eeu ‘n ietwat boheemse dierasie met ‘n nogal mogge troffe opleiding. Maar… maar sy had die voorreg (as Amerikaanse burger) om ‘n redelike deel van haar lewe in Frankryk te leef – veral die plattelandse dele. Dit het haar ‘n diepe waardering gegee vir goeie en eenvoudige bestandele, eerlike geregte en miskien die ware sin van gastronomie. Sy het hierdie ervarings en ondervindinge deurgetrek na haar skrywery toe en het nogal beroemd geraak vir haar filosofiese aanslag rondom die skryf van – en oor – kosmaak, resepte en die sielsbetekenis van eet.

Ek het al vroeër op ‘n ander publieke forum genoem dat die oondwarm reuk van jou eie, tuisgemaakte, bakkende brood waarskynlik een van net ‘n handvol fundamentele aromas is in beide die Westerse en Midde Oosterse beskawings wat so deeglik by elk gevoelens van gemoedsberustende vredigheid en genoegsaamheid in eie huis en haard aanwakker. Gevoelens van toegeneëntheid en alles-is-wel-met-hierdie-wêreld, al is dit net vir ‘n uur of twee.

Brood bak is nie ‘n kuns nie, dit is ‘n vaardigheid. Dit verg geduld, ‘n bietjie tegniese kennis en ‘n skeut respek vir jou bestandele. Verhewe brood benodig egter ‘n sensuele, kunssinnige siel; insig in die aard en filosofie van gis, en ‘n oplettende ervaring in die eienskappe en kenmerke van jou bestandele.

Hierdie resep is egter vir doodgewone witbrood, geskik vir alledaagse gebruik. Ontspan gerus, ons gaan nie vandag liries raak nie.

Die sonneblomolie in hierdie resep hou die brood sag en soepel én verleng die rak leeftyd daarvan. Sonder die protein extenders & modifiers wat in kommersiële brood aangetref word, is die bruikbare leeftyd van ‘lae vet’, tuisgebakte brood beperk tot twee na drie dae voor dit begin uitdroog en bros word. Die roosterbrood wat na drie dae gemaak kan word van hierdie brood gaan jou lam in die knieë laat.


Spesiale Toerusting Benodig:
‘n Elektriese menger, so in die Kenwood Chef of Kitchen Aid klas.


Bestandele:

Geskik vir 1 x ±2L pan
Kitsgis, die korreltjie tipe
1 x 20g pakkie
Suiker
15ml
Louwarm water
60ml


Witbroodmeel
750g
Suiker
45ml
Sout
15ml
Sonneblom olie
120g / 125ml
Warm water
±250ml


Eier
1
Volroom melk
30ml


Metode:
·           Smeer die broodpan deeglik met ‘n volvet margarien, veral die bodem en hoeke van die pan.
·           Meet die meel, tweede porsie suiker, sout en sonneblomolie direk uit in die bak van ‘n menger masjien.
·           Kook ‘n ketel vol water en hou dit voorlopig eenkant.
·           Ativeer die gis: Meng die droë gis, suiker en water in ‘n kommetjie. Roer die mengsel goed deur totdat dit lyk of die giskorreltjies begin smelt / oplos. Dit is belangrik dat die water se temperatuur net reg moet wees, omtrent die van baba badwater. Wees gewaarsku, die gis kry skielik en dramaties lewe as dit water en suiker oorkom.
·           Die gis sal gereed wees sodra dit ‘n stewige laag skuim ontwikkel het. Menige lagers sal groen van jaloesie word vir gis se uitbundige vermoë om skuim te vorm.


·           Verdun 200ml kookwater met koue kraanwater totdat dit omtrent 60°C bereik. Die temperatuur gaan reg wees as jy jou vingers 3 – 4 sekondes in die warm water kan hou.
·           Plaas die deegmenger bak in die menger en koppel die deeghaak aan die menger se as. Meng die droë bestandele op ‘n stadige spoed en voeg die warm water stadig by teen die kant van die mengerbak af totdat dit lyk of die droë bestandele ‘n deeg begin vorm.
·           Voeg die warm water hiervandaan eetlepelgewys by totdat die brooddeeg ‘n bol begin vorm om die menger se haak.
·           Knie die deeg op stadige spoed totdat al die meel onder in die mengerbak in die deegbal geabsorbeer is en die kante van die mengerbak ‘skoon’ is van meel en stukkies deeg.
·           Die deeg gaan op hierdie punt teen die menger se haak begin ‘opklim’. Gebruik die steel van ‘n houtlepel om die deeg aan die wegdraai kant van die deeghaak af te forseer in die mengerbak in wyl die masjien knie. Die doelwit is om ‘n homogene brooddeeg te vorm met geen stukkies droë bestandele sigbaar nie. Die deegbal se oppervlak moet glad en egalig wees, dan is dit gereed. Knie nog ‘n minuut of twee as die deeg oppervlak lyk of dit selluliet het.
·           Moet onder geen omstandighede jou hand of hande in die menger se bak laat beland terwyl die masjien loop nie. Die elektriese motor in feitlik alle menger masjiene is sterk genoeg om die karpale beentjies in jou hand in ‘n oogwink te vergruis soos eierdoppe tot by die punt waar jou vriendelike, rekonstruktiewe chirurg eenvoudig net sy kop mismoedig gaan skud.


 ·           Stop die menger masjien as die deeg vir jou gereed lyk en haal die menger bak uit die masjien. Maak die deeg bymekaar in ‘n bol en knie dit per hand in die menger bak ‘n verdere minuut of twee totdat jy ‘n stewige, stywe bal deeg het.
·           Draai die bal deeg onderstebo en bedek die menger bak met ‘n plastiek sak. Plaas die hele spul eenkant in ‘n stil hoekie weg van enige trekke of direkte sonlig. Gis kry maklik koud. Draai die menger bak op koel dae toe met twee vaddoeke om hitte verlies te beperk.
·           Afhangend van die aanvoelbare dag temperatuur gaan die deeg uitrys en sy volume verdubbel binne ±40 minute. Gooi maar elke 10 minute ‘n oog oor die rysende deeg.
·           Knie die deeg af sodra dit verdubbel het in volume. Verwyder die deeg uit die menger bak en plaas dit op jou kombuis toonbank. Druk dit plat in ‘n reghoekige ‘vel’ omtrent so lank soos jou broodpan en twee maal so breed.
·           Rol die vel deeg op parallel met die vel se lang kant en plaas die rol deeg in die broodpan met die los punt se kant na onder. Vou die ente van die deeg in, indien nodig, en druk die deeg plat todat dit die bodem van die pan mooi gelyk vol lê.
·           Ek hou daarvan om ‘n gleuf te druk in die deeg oor die lengte daarvan reg in die middel van die pan af. Dit ‘dwing’ die lang sye van die deeg om meer uit te rys as die middel. Dit verhoed dat die brood bo-op oopbars in die oond.


 ·          Maak die pan weer toe met dieselfde plastiek sak en laat dit eenkant om weer uit te rys. Pluis die sak uit sodat dit bolrond uitstaan bo-oor die pan. Die plastieksak moenie aan die uitdyende deeg raak nie, want die deeg gaan daaraan vasklou sodra dit onder die plat sak inrys en daarmee kontak maak. Die voorkoms van jou pragtige deeg sal geruïneer wees as jy die binnekant van die plastieksak moet aftrek vanaf die oppervlak daarvan. Boonop mag die deeg platval as jy dit dalk effe te vêr laat uitrys het.
·           Die brood gaan gereed wees as dit mooi bolrond uitgerys het oor die bokant van die pan. Wees versigtig dat die deeg nie te vêr uitrys en begin uitpeul oor die randte van die pan nie. Die rou brood gaan soos ‘n sampioen lyk en die deeg mag platval sodra jy dit begin beweeg. Boonop gaan die tekstuur van die gaar brood binne lig en los wees – dit verkort die raklewe van die brood.
·           Meng die eier en melk en verf dit mildadig bo-oor die brood deeg. Dit verleen ‘n heel bekwame bruin aan die kors van die gaar brood.
·           Bak die brood vir 55 – 60 minute by 180°C in ‘n statiese oond, of ± 45 minute by 170°C in ‘n konveksie oond.
·           Die brood gaan gaar wees sodra dit begin wegtrek vanaf die wande van die pan. Trek die brood vinnig halflyf uit die oond en klop liggies daarop reg in die middel. ‘n Dowwe, hol klop dui op ‘n gaar brood.
·           Haal die brood uit die oond en laat dit vir 10 minute afkoel op ‘n draad afkoelrakkie op jou kombuis toonbank.
·           Smeer mildelik volvet margarien oor die kors van die warm brood. Dit maak die kors sag en verleen ‘n wonderlike glans aan die brood se kors.
·          Gebruik oond handskoene en keer die broodpan om sodat die brood kan loskom vanuit die pan. Klop liggies oor die lengte van die pan as dit effe nukkerig is om die brood te laat los. Gebruik ‘n dunlem paletmes – indien nodig – om die brood los te maak al met die wande van die pan langs indien die brood werklik halstarrig is om uit te klim. Wikkel die brood veral by die hoeke van die pan met die paletmes. Werk sagkens en geduldig met die brood, dit verdra nie frustrasie of geweld nie.
·           Bedek die uitgekeerde brood met ‘n skoon vaddoek en laat dit afkoel na ‘n hanteerbare temperatuur voor jy enige een naby toelaat met ‘n broodmes om die korsies uit te slag.


 Kommentaar:
·           Ek verkies om die korreltjie kitsgis eers met louwarm suiker water te aktiveer i.p.v. om dit direk by die droë bestandele in te meng soos die vervaardiger aanbeveel. Ek vind dit neem langer vir die deeg om uit te rys met die droë gis en die deeg verg meer vog om die droë gis in die vormende deeg in te vermeng.

·           Kommersieël is beide ‘n brouers en ‘n bakkers korreltjie kitsgis beskikbaar in 10g 0f 20g, hermities verseëlde pakkies. Ek verkies om die brouers gis te gebruik. Dit rys vinniger en dit is (vir my. altans) asof hierdie produk ‘n fyner tekstuur verleen aan die finale brood.

·           Gebruik maar redelike warm water om die meel en ander bestandele in ‘n deeg in te knie. Hoe warmer (binne perke) die finale, pas gekniede deeg is, hoe vinniger rys dit uit. Die kamer temperatuur meel sal meeste van die hitte absorbeer en die gis sal nie seerkry nie. Kokende water gaan nie werk as jy haastig is nie, brood verg geduld.

·           In ‘n noodgeval kan die pas voorbereide deeg direk in die broodpan uitgekeer word om net een maal te rys en dan gebak word. Die brood sal egter ‘swaar’ wees en ‘n baie fyn tekstuur hê.


© RS Young, 2017