RESEP: Korslose Souttert


Baie, baie lank gelede het nogal heelwat middelklas, Afrikaans sprekende, getroude dames nie nodig gehad om te werk nie. Rêrig! Gaan vra jou ouma, sy sal weet. Dit was ‘n eenvoudiger era met eerliker norme en helderder waardes as wat mens vandag aantref. 

Dit was ‘n gewilde gebruik onder die dames om oggend geleenthede te skep waar hulle kon bymekaar kom en gesels oor allerhande kontemporêre sake wat as gepas beskou was. Eggenotes – en selfs so af en toe ‘n stukkie skinder – was slegs met vertrouelinge bespreek. Mens se goeie naam was destyds goud werd!



Die gasvrou het natuurlik ook die kans gehad om bietjie ‘uit te hang’ en haar vaardighede ten toon te stel. Tuisnywerhede was onbekend en min mense het die nut ingesien om soet en sout gebak by die groot kruidenierswinkels te koop. Soutterte, melkterte, ‘n verskeidenheid koeke en heelwat vinger of snoep happies was gewild. Gaan kyk maar net in Tannie SJ de Villiers se Kook en Geniet, ou Huisgenote en Sarie’s. Soutterte was ook gewild by die talle noenmale wat gereeld saam met die formele funksies van Kerk, Skool, Party of Werkgewers aangebied was.

En so het ek korslose souttert leer ken, aan’t huise van Ma se Sunridge Park vriendin, Tannie Rooikop. Sy was nogal ‘n formidabele vrou met haar uitgepofde, laat sewentigers haarstyl in skelrooi en haar luiddrugtige uitgesprokendheid. Formidabele ou kat vir haar dag.



In hierdie era van McDonalds, Steers, Kentucky en hul trawante, mag die jonger kinders dalk hul neuse optrek vir souttert. Bak gerus mini tertjies in ‘n gewone, standaard grootte muffin pan om dit die voorkoms van “iets anders” te gee. Indien daar enige tertjies oorbly, kan dit môre saamgaan in die kosblikke. As die telge nog kosblikke gebruik …

Hierdie souttert hoef nie rond te wees nie. Enige vierkantige of reghoekige oondbak van 1.25 Liter (of effens groter) inhoudsmaat is geskik. Verder is die tert ook lekker as dit koud is. Netnie yskas koud nie.


Resep lewer:
Bak tyd:
Totale tyd:
8 Porsies ronde tert, of
± 9 muffin grootte tertjies
± 40 minute
± 60 minute


Spesiale vereistes of toerusting:
1 x 24cm glas of porselein tert pan (± 1.25 liter inhoudsmaat)
1 x 12 koppie muffin-pannetjie


Bestandele:


Die nat bestandele:
250g
Brunoise gekapte, rou uie
250g
Rugspek, in 2cm x 2cm stukkies gesny
150g
Gerookte viennas in 1 cm dik skyfies gesny
75g
Gerasperde cheddar kaas
2.5mL
Gedroogde knoffel vlokkies



Die vloeistof bestandele:
100mL + 200mL
Volroom melk
3
Ekstra groot eiers



Die droë bestandele:
45g
Koekmeel
2.5mL
Braai speserye
2.5mL
Gemengde kruie
2.5mL
Sout
1.25mL
Fyn gemaalde swart peper



Metode:
·         Spuit die muffin-pan of tertpan deeglik uit met ‘n kleefweerende sproei, veral oor die bodem.
·         Braai die spek oor medium-hoë hitte totdat dit mooi bruin en bros word. Skep dit uit die pan en laat dit eenkant afkoel.
·         Gebruik die 100mL porsie melk en ‘n flat whisk om die spek aanbrandseltjies te lig vanaf die bodem van die nog warm pan.
·         Voeg die spekkerige melk by die 200mL porsie, hou eenkant.
·         Meng die gaar spek saam met die res van die nat bestandele en die gedroogde knoffelvlokkies. Roer deur tot deeglik gemeng.
·         Verdeel die uie, spek, worsie en kaas mengsel eweredig tussen die muffin-pan se holtes of skep dit in die tertbord en maak die vulsel gelyk bo-op.
·         Moenie die rou vulsel te veel saam pers nie, anders sal die eier, melk en speserye mengsel later nie mooi penetreer nie.
·         Weeg en meet die droë bestandele uit in ‘n mengbak en meng goed deur.
·         Klits die eiers en  al die melk deeglik saam en meng die droë bestandele daarby in. Meng deeglik en maak seker daar is nie klonte teenwoordig nie.
·         Giet die melkmengsel eweredig oor die gevulde pan of muffin-pan tertjies. Klits die melkmengsel gereeld terwyl dit oor die muffin-pan tertjies uitgegiet word, anders sak die koekmeel uit.
·         Maak seker die oppervlak van die tert (of tertjies) is redelik gelyk en dat daar nie enige bestandele hoog uitsteek bo-oor die vloeistof oppervlak uit nie, anders mag dit brand in die oond se hitte gloed.
·         Bak die tert in ‘n voorverhitte oond vir 40 minute by 180ºC (of 35 minute by 160ºC vir ‘n konveksie oond).
·         Bak die muffin-pan tertjies 30 – 35 minute by dieselfde temperature as die groot tert. 25 – 30 Minute vir ‘n konveksie oond. Die mini tertjies is gereed as dit bolangs begin verbruin en duidelik uitpof in die oond.
·         Haal uit die oond en laat die tert afkoel tot matig warm.
·         Sny in wiggies en bedien.
·         Laat die muffin-pan tertjies heeltemal afkoel tot kamer temperatuur en maak dit versigtig los met ‘n skerp, dunlem nutsmessie. Gebruik ‘n vurk om elke tertjie versigtig uit sy koppie te lig.


Kommentaar:
Die koekmeel sink af deur die melk vloeistof om ‘n oor die verloop van die gaarword proses ‘n dun, amper kluitjierige korsie op die bodem van die pan te vorm. Dit help om die warm, gaar vulsel bymekaar te hou soos die tert in wië gesny en uitgelig word opdien borde toe.

Die gehalte van, en die soort, worsie wat gebruik word kan nogal ‘n beduidende invloed hê op die smaak van hierdie souttert. Kaas worsies (Cheese grillers) of Bockwurst werk ook goed in die plek van viennas. Wees versigtig vir pienk (of ‘rooi’) viennas, hulle verleen ‘n effe avant garde skelpienk kleur element aan die souttert. Die smaak raak ook effe skellerig.

Hierdie korslose souttert gaan nogal goed af saam met ‘n koue, ligte wittetjie soos ‘n Chenin Blanc, Blanc de Blanc of ‘n Pinot Grigio. Solank die bottel se beskrywing sê “crispy, light white” (of iets na dier voege) behoort jy in goeie geselskap te wees. Selfs ‘n redelik droë Rosé sal ook goed werk. Vermy maar die Natural Sweets in wit, rooi of blos.


© RS Young 2015