RESEP: Geurige Maalvleis




Die geheime van ‘n lekker, geurige maalvleis is eenvoudig. Gebruik ‘n goeie gehalte maalvleis en pas selfbeheersing toe om nie te veel volksvreemde bestandele by te neuk nie. Ek verkies ‘n effens souserige maalvleis wat nie te skerp gegeur is nie. In hierdie formaat werk dit goed saam met meeste koolhidrate soos roosterbrood, vetkoek, kapok aartappels, pasta, rys, polenta of selfs mieliepap.

My Moeder kon ‘n parmantige geurige maalvleis voorberei wat mens heel varkerig kon laat raak van lekker eet. Moeder was egter ‘n Bisto meisie in hart en siel. Ek weer, is nie te vinde vir daardie produk se skerp, amper Marmite-rige smaak nie. Ongelukkig is Moeder weg voor ek presies kon uitvind waarmee sy die Bisto getem het.

Hierdie is ‘n basiese resep en lewer ‘n eindproduk met ‘n egalige, vol geur wat die smaak van beesvleis komplimenteer en ondersteun. Diegene wat hou van groot en prominente geure sal effe teleur gestel wees en mag hierdie resep as ietwat vaal ervaar. C’est la vie. Met hierdie resep as basis, kan avontuurlustige kokke aanpas na hartelus oppad na die land van Groot Geur.

Geurige maalvleis het in my opinie ‘n paar “moets” en “moenies” om in gedagte te hou. Die “moets” kom eerste:
·         Gebruik ‘n goeie gehalte, maer maalvleis. Dit moenie vetloos wees nie, want ‘n bietjie vetterigheid (sê maar so 2% na 3%) is nodig om die geur elemente doeltreffend uit die bestandele te onttrek. Lean topside is gewoonlik net reg.
·         As die pienkerigheid van die rou weefsel weg is, is die maalvleis gereed. Dit is sinloos om die gaar maalvleis verder te laat prut. Gaar is gaar en word nie ‘gaarder’ nie. Hitte en suurstof begin die geur en smaak elemente vernietig sodra die vleis volledig gaar is.
·         Kap jou uie redelik fyn. Die groot kokke gebruik die term brunoise – dis hoe. Aan die ander kant, gaan groot as jy hou van slierte gaar uie wat erdwurm-styl deur die maalvleis kronkel. Uie is ‘n ernstig subjektiewe onderwerp!
·         Ek dink uie is noodsaaklik vir maalvleis. Gaar uie het ‘n amperse umami-agtige soeterigheid wat meeste soorte diere proteïn mooi komplimenteer en ondersteun. Die verhouding rou uie tot rou maalvleis is na elke kok se smaak en hart.

Die “moenies”:
·         Vermy vetterige maalvleis. Beesvet het ‘n prominente geur wat alles in die gereg skeef kan trek. En die plassies helder vet wat oral in die laagliggende kolle vorm in die gaar, warm maalvleis as dit bietjie staan, lyk ook nie mooi nie.
·         Ek is nie lief om die maalvleis eerste bruin te braai en daarna die uie by te voeg nie – dis nou te sê as uie enigsins op die agenda is. Die verbruiningproses neig om die flokke gemaalde, rou weefsel uit te droog en hard te maak. Agterna moet mens dan allerhande planne beraam om die spul weer souserig te kry en die korrelrigheid weg te steek.
·         Ek hou nie daarvan om tamatiepuree of selfs tamatie smoor en of sous by my maalvleis te voeg nie. Die skerp, suurerige smaak van gekonsentreerde tamatie produkte oorheers vinnig die inherente geur en aroma van die fondasie waarop alles gebou word: geurige, goeie gehalte bees maalvleis.
·         Die uie hoef nie bruin gebraai te wees nie. Dit werk wel om die uie bruin te karamelliseer, maar dan moet jy dit aanhoudend dophou en gereeld deur roer. Uie brand mos aan soos melk wat oorkook: dit gebeur sodra jy 3 sekondes weg kyk!


Resep lewer:
Hoeveel tyd?:
4 - 5 Porsies
± 40 minute


Spesiale vereistes of toerusting:
Wonderpeper. Gebruik Robertsons se Braai Speserye in die hoeveelhede aangedui in die plek van wonderpeper indien dit nie beskikbaar is nie.


Bestandele:

Sonneblom olie
30 mL
Uie, geskil en brunoise gekap
500 mL / ± 2 medium uie
Gedroogde oreganum
5 mL
Maer maalvleis (lean topside)
1 Kg


Bees aftreksel poeier, Ina Paarman’s s’n
2.5 mL
Fyn swartpeper
2.5 mL
Fyn wonderpeper  (Allspice) †
1.25 mL
Of:

Braai speserye, Robertsons s’n
2.5mL
Sout
± 10 mL
Koekmeel
± 15 mL


Worcestershire sous, Lazenby s’n
30 mL
Koue water
Soos nodig


Metode:
·         Plaas ‘n pan of kastrol oor medium-hoë hitte en voeg die olie by.
·         Voeg die gekapte uie by die warm olie en roer goed deur sodat die uie goed bedek is met olie.
·         Hou die deksel af en laat die uie gaar word totdat dit sag en glasig. Roer gereeld deur.
·         Voeg die oreganum by die glasige uie en meng vinnig, maar deeglik deur.
·         Draai die hitte af na medium.
·         Voeg die maalvleis in kleinerige handjies vol by die uie mengsel en meng die bestandele goed deur. Gebruik die lepel se rand om die groot klonte maalvleis op te breek en roer deur totdat die uie en maalvleis deeglik gemeng is.
·         Die maalvleis en uie mengsel mag te droog lyk. Vermy die versoeking om ekstra water by te voeg. Sodra die maalvleis begin warm word, sal dit genoeg vloeistof vrystel om dit aan die prut te hou.
·         Plaas die deksel op en roer die maalvleis goed deur elke 5 minute.
·         Draai die hitte stelselmatig af totdat dit prut en nie kook nie, anders mag dit aanbrand.
·         Voeg die oorblywende droë bestandele by mekaar in ‘n kommetjie terwyl die maalvleis prut.
·         Sodra die maalvleis sy pienkerigheid verloor het en ‘n egalige kleur aangeneem het (± 15 minute), voeg jy die Worcestershire sous by die kommetjie droë bestandele en meng dit goed deurmekaar met ‘n mini-whisk of vurk. Voeg water by (indien nodig) tot ‘n slapperige mengsel vorm. Maak deeglik seker dit bevat geen klonte nie.
·         Skraap heirdie mengsel in by die pruttende maalvleis en meng behoorlik deur.
·         Laat die geurige maalvleis vir 5 minute langer prut sodat die verdikkende koekmeel gaar kan word.
·         Voeg klein volumes warm water by indien die maalvleis te dik is na jou sin.
·         Sou dit te loperig wees, sif jy koekmeel – 5 mL op ‘n slag – egalig oor die oppervlak van die pruttende geurige maalvleis, roer dit deur en laat prut oop vir ‘n verdere 3 minute. Herhaal tot die geurige maalvleis ‘dik’ genoeg na jou sin is.
·         Haal die geurige maalvleis af vanaf die hitte en proe versigtig. Pas die smaak aan met sout soos nodig.
·         Sou die maalvleis ietwat geurloos voorkom, kan jy die geur optel met ‘n knikkie fyn witpeper, maar wees versigtig vir te veel!
·         Laat die geurige maalvleis so 5 minute rus op die afkoelende stoofplaat om die geure en aromas ten volle te laat ontwikkel.
·         Skep op en bedien.


Kommentaar:
Roer die maalvleis aanvanklik gereeld, en met mening, deur met ‘n groot hout of bamboes lepel om klonte te voorkom. Druk enige nukkerige klonte plat teen die wand van die pan of kastrol waarin dit gaar gemaak word.

Gemengde of Italiaanse Kruie sal ook goed werk in die plek van oreganum. Robertsons se produk is geurig, maar nie ‘in jou gesig’ nie. Gedroogde tiemie kan ook bygevoeg word by hierdie resep, maar gaan stadig daarmee synde dit het ‘n skerp en plat kruieagtige geur het. Moenie meer as 1.25mL tiemie per kilogram maalvleis gebruik nie.

Gemaalde en heel wonderpeper is gewoonlik verkrygbaar by die tipiese Indiër speserywinkeltjies of  groter besighede wat spesialiseer in slaghuis of bakkery & spyseniering benodighede en droë goedere.

Gewone, kommersiële fyn swart peper is voldoende vir hierdie resep. Gebruik slegs 3 – 4 draaie van jou peper meule as jy vars gemaalde swart peper verkies want dit het ‘n skerp en baie prominente smaak wat maklik kan domineer.

Verdra maar geduldig die wat nie kan lewe sonder tamatiesous nie.


 † Agtergrond – Wonderpeper:
Wonderpeper is ‘n ietwat ongewone karakter in die Suid Afrikaanse kook repertoire. Die naam kom van die geurprofiel van die groen (nie-ryp), gedroogde en gemaalde bessies van die wonderpeper boom, Pimenta dioica. Die spesery het ‘n prominente geur van naeltjies en neutmuskaat met duidelike aromas van gemmer en kaneel in die varsgemaalde produk. Gewoonlik word wonderpeper te koop aangebied as ‘n bruin, effe gryserige poeier of as heel, gedroogde korrels wat heelwat groter is en vertoon as swartpeper korrels.

In Engels word dit allspice of pimento (meestal vir die heel korrels) genoem en word primêr in Sentraal en Suid Amerika verbou. Dit is ‘n baie belangrike komponent van die Karibbiese kookkuns (beef jerky) en het ook heelwat aanwending in die kookkuns van verskeie Midde Oosterse streke.

In die Suid Afrikaanse kookkuns is dit gereeld ‘n bestandeel in biltong speserye en waarskynlik universeel in boerewors spesery mengsels. Verder word dit word ook in sekere nageregte van Britse oorsprong gebruik en ek het dit al as ‘n bestandeel in wortel- en vrugtekoek resepte gesien.

Op kommersieële vlak is dit ‘n gewilde bestandeel in heelwat braai souse (barbeque). Dit word ook op groot skaal gebruik as geurmiddel in die vervaardiging van polonie en verskeie soorte geprosesseerde worsies en verwante produkte. Die aromatiese olie wat uit die spesery ontrek word het ook aanwending in die parfuum nywerheid.

Twee interessante artikels is hier en hier beskikbaar.


© RS Young 2015