RESEP : Brosgebraaide Spek en Bloukaas Quiche




Stinkvoetkaas, vrotkaas, duiwelsdrek, ensovoorts. Bloukaas is nie almal se koppie tee nie. Feitlik almal wat ek ken het ‘n besonderse swart of wit, Lief-dit! of Haat-dit! opinie hieroor, net soos met olywe, brusselse spruite, kerrie skaapafval of liquorice – onderandere. Bloukaas is beslis ‘n aangeleerde voorliefde, maar die ondersteuners daarvan is erg passievol hieroor: soms tot vêr verby die punte van logika en rede. Die uwe is nie ‘n lid van laasgenoemde groep nie.

Bloukaas (as ‘n familie van soortgelyke produkte) is letterlik amper net so oud soos die berge. Twee van die bekendstes: Franse Roquefort en Italiaanse Gorgonzolaword in grotte in die berge bokant beide dorpies rypgemaak vir enige iets van ses maande tot twee jaar. Gorgonzola se oorsprong dateer vanuit 879 vC – dit is nogal ‘n stamboom! Stilton, die Britse eweknie, is nog nat agter die ore teen ‘n onstaan êrens in die vroeë 1700’s.

Meeste van hierdie kaassoorte word vervaardig van bees- of skaapmelk – wat nogal ‘n uitdaging is. Onlangs probeer om ‘n skaapooi te melk? Sterkte. G’n wonder die kaas is gewoonlik duur nie. Ek het vanoggend by ons buurt groentewinkel ‘n wig plaaslik vervaardigde Gorgonzola bewonder. Teen R 289.50 / kg is dit waar dit gebly het: bewondering …

Primêr gebruik vervaardigers twee soorte skimmel om bloukaas te vervaardig: Penicillium roqueforti en Penicillium glaucum. Boonop speel die bakteriese spesie Brevibacterium linens ook getrou sy rol om bloukaas daai unieke, 3-weke-laas-gebad-onderarm-klankie en kenmerkende “vrot voete” aroma te verleen.

En die Europeers is rêrig ernstig oor hul bloukaas, net soos die wyn manne oor port, sherrie en sjampanje. Al hierdie produkte geniet ‘n ProtectedDesignation Of Origin status regdeur die Europese Unie. Wee jou om enige van daardie plaaslik vervaardigde produkte uit te voer na die EU met daai beskermde name op die etiket: jou besending gaan op die kaai staan en vrot. Vra maar vir die plaaslike port, sjerrie en vonkelwyn manne wat wil uitvoer – hulle het al daai toetsie lank gelede al gedop ten spyte van Afrika se voorkeur handelsvenoot status.

Bloukaas het ‘n verstommend wye aanwending in die lekkereet wêreld. Google sal ruim resep voorstelle maak op navraag. Bloukaas sous (vir enige iets van beeshaas tot gerookte skelvis), risottos, heelwat stysel groentes, romerige pasta geregte, pizza vulsels en selfs mieliepap (polenta) vind baat by die deurdringende teenwoordigheid van bloukaas. Veral gerookte vleis produkte blom gewoonlik saam met ‘n skoot bloukaas. Wees egter skugter daarmee – dit sal luiddrugtig oorvat in ‘n ommesientjie.

Hierdie quiche resep is ietwat van ‘n persoonlike kenmerkdis. Dit is maklik om te maak en trek oral aandag. Die bloukaas is matig en speel rustig en kalm saam met die ander bestandele.


Spesiale Toerusting Benodig:
‘n Losboom, vierkantige tertpan. Gebruik ‘n 24cm, porselein quichepan as alternatief


Bestandele:

Geskik vir 1 x 23cm tert
Skilferkorsdeeg, yskas ontdooi, maar steeds koud
1 x 500g rol


Buikspekrepies (streaky bacon)
500g
Bloukaas
120g
Cheddarkaas, gerasper
75g
Heelkorrel mosterd
10ml
Knoffel, fyn gekap
5ml
Swartpeper, varsgemaal
2.5ml


Eiers, ekstra groot
5
Room, vars
200ml
Volroom melk
200ml


Snoep tamaties (cocktail tomatoes)
Vir versiering
Gerookte Spaanse paprika
Vir versiering


Metode:
·         Bespuit ‘n 23cm tertpan deeglik met kleefwerende sproei of verf dit uit met olyfolie – maak veral seker dat die middel en regop randte van die pan deeglik gesmeer is.
·         Sprinkel jou kombuistoonbank mildelik met koekmeel. Rol die skilferkorsdeeg daarop uit en sprinkel nog koekmeel bo-oor. Versprei dit egalig oor die oppervlak van die vel deeg met ‘n kwassie.
·         Rol die skilferkorsdeeg uit met ligte, egalige hale totdat dit omtrent halfpad so dik is. Draai die vel deeg gereeld deur 90° om dit egalig uit te strek. Keer die vel ook kort-kort om sodat die onderkant ook gerol word.
·         Laat die vel uitgerolde deeg vir 2 – 3 minute rus sodra jy tevrede is daarmee. Voer nou die tertpan versigtig uit. Maak veral seker dat die deeg goed in die hoeke van die pan vasgedruk is.
·         Sny die stukke deeg wat bo-oor uitsteek egalig af met ‘n skêr omtrent 5mm hoër as die rand van die pan. Dit verhoed dat die kors te vêr inkrimp in die oond sodra dit gebak word.
·         Vries die uitgevoerde tertpan vir een uur.
·         Voorverhit solank ‘n gewone oond tot 220°C en ‘n konveksie oond tot 200°C.
·         Kap die spek op tot dit sowat 1cm x 1cm blokkies vorm.
·         Braai die spek stadig in ‘n pan oor medium hoë hitte totdat die stukkies spek mooi bruin en bros gebraai is, ± 20 – 25 minute. (1)
·         Keer die brosgebraaide spek uit in ‘n mediumgrootte sif wat oor ‘n metaalbak lê. Skud die sif met die warm spek so 2 – 3 maal om die varkvet te dreineer. Laat die spek eenkant om af te koel.
·         Kap die bloukaas op in 1cm x 1cm blokkies. Hou voorlopig eenkant. (2)
·         Meng die eiers, room, heelkorrelmosterd (3), knoffel en swartpeper in ‘n mengbak. Hou voorlopig eenkant.
·         Haal die gevriesde tertkors uit en versprei die spek eweredig oor die oppervlak van die kors.
·         Sprinkel die cheddarkaas eweredig bo-oor die spek.
·         Versprei die blokkies bloukaas eweredig bo-oor die cheddar en spek mengsel. Moenie die vulsel plat druk nie.
·         Meng die eier, room en geursel mengsel goed deur en giet dit in ‘n dun stroom met ‘n spiraalpatroon bo-oor die vulsel. Maak seker dat al die geurmiddels in die vulsel beland. Probeer om nie die spek en bloukaas vulsel te versteur nie.
·         Moenie die gevulde tertpan te vol maak met die eier- en roommengsel nie. Probeer om die vlak van die mengsel tot so 2 – 3mm onder die rand van die skilferdeegkors te laat opkom. (4)
·         Gebruik ‘n vurk en druk enige drywende stukkies cheddar of bloukaas terug onder die oppervlak van die eier- en roommengsel.
·         Plaas die quiche versigtig in die oond op ‘n rakkie een derde van bo af.
·         Bak vir 10 minute by 220°C / 200°C en draai die oond ddarna af na 180°C / 170°C. Bak vir ‘n verdere 25 minute.
·         Die vulsel sal van die rand af binne toe begin uitpof soos dit gaar word – dit is normaal.
·         Maak die oond oop op die 35 minute punt en skud liggies aan die tertpan. As die quiche in die middel nog effe wankelrig is, is dit gereed. Bak vir ‘n verdere 10 minute indien meer as ‘n derde van die quiche se oppervlak nog wankelrig blyk te wees. (5)
·         Haal die quiche uit wanneer gereed, laat dit afkoel en bedien dit nog goed warm.
  

Notas:
·         NOTA 1: Die spek kan ook vir ± 25 minute op ‘n draad afkoelrakkie binne-in ‘n rolkoekpan in ‘n 200°C oond gebak word tot bros. Verkrummel dit per hand sodra koud. Die panbraai metode lewer egter ‘n geuriger eindproduk want die brosgebraaide stukkies spek behou ‘n redelike hoeveelheid uitgebraaide varkvet. Hierdie varkvet versprei deur die gaarwordende vla van die quiche tydens die bakproses om ‘n wonderlike geurige ondertoon daaraan te verskaf.


·         NOTA 2: Die Simonsberg produk, Simonzola, werk goed. So ook Cremona se Crème Blue. Checkers Hyper versprei die Cremona produk terwyl Simonsberg by meeste van die groot kettingwinkels beskikbaar is.
·         NOTA 3: Maille se heelkorrelmostert lewer ‘n beter resultaat as Collman’s s’n of ander plaaslike produkte.
·         NOTA 4: Die regop rand van die skilferdeegkors gaan beduidend uitrys in die oond en sodoende die interne volume van die tertpan verminder. As die pan te vol is met vla, sal dit oorloop oor die rand van die skilferdeegkors en tussen die kors en die pan beland, waar dit sál aanbrand. Dit sal sake aansienlik bemoeilik om die gaar quiche (heel, of in skywe gesny)later uit te lig uit die pan.
·         NOTA 5: Die totale duur van die bakproses is afhanklik van die materiaal waaruit die tertpan vervaardig is. Metaal tertpanne bak vinnig. Swart metaalpanne bak effe vinniger (en brand makliker aan) as blink of grys, nie-kleef metaalpanne. Glas en porselein panne neig om ± 10 minute langer te neem omdat glas en porselein heelwat swakker hitte geleiers as metaal is.


© RS Young, 2017