RESEP : Oom Vetkoek se Ryk Karringmelkbeskuit




Middeljare begin waarkynlik die doeltreffendheid van my geheue en die detail van my herinneringe aantas, maar die kommersiële karringmelkbeskuit in die bekende, regop boks met die bolla tannie voorop smaak nie meer vir my soos die wat ek geken het in my universiteitskoshuis dae nie. Wie sal nou in elk geval weet en die vervaardiger sal beslis ook g’n sprook sprak nie.

Ek het baie respek vir die tannies (en omies) wat ‘n lewe maak uit bak vir tuisnywerhede en diverse boere- en mengelmoesmarkte, maar ek vind die pryse van goeie gehalte beskuit deesdae buitensporig. Kruisig my maar, maar ek was te lank in die kosbedryf. Ek wéét wat die bestandele kos en ek weet óók hoe ‘n deeglik opgestelde kombuis die eenheid arbeidkoste van enige produk relatief laag kan hou. Dit daar gelaat.

Nou bak ek my eie. Dit het ‘n rukkie geneem en ‘n ietwat navorsing gekos, maar hier is die vrug van my hande arbeid – gratis en verniet.


Spesiale Toerusting Benodig:
2 x 23cm Vierkantige metaal koekpanne
‘n Elektriese menger, so in die Kenwood Chef of Kitchen Aid kategorie.


Bestandele:

55 – 60 Stukke
Bruismeel
1.8Kg
Botter, gesout
250g
Bakkers margarien (volvet)
350g
Strooisuiker
300g
Indien verkies: Vla poeier
35ml
Sout
20ml
Ekstra groot eiers
3


Karringmelk
600ml
Volroom melk
Soos nodig


Vir die glanslaag:

Eier
1
Water
15ml


Metode:
·         Voorverhit jou oond: 180°C vir ‘n gewone, statiese oond, of 170°C vir ‘n konveksie oond.
·         Smeer die kante en bodem van jou panne deeglik met volvet margarien – die gaar, natbeskuitkoek is bros en mens wil nie onnodig stukke verloor omdat die gebak vassit in die pan nie.
·         Indien verkies: Sny twee vierkante bakpapier wat netjies pas onder in elke pan. Smeer die papier ook deeglik met volvet margarien.
·         Smelt die botter en margarien saam in ‘n mikrogolf oond en hou voorlopig eenkant. ‘n Kastrolletjie op ‘n lae plaat sal ook werk, maar gaan langer neem.
·         Meng die eiers en karringmelk, roer deeglik deur en hou dit voorlopig eenkant.
·         Sif die bruismeel, strooisuiker, sout en vla poeier saam in die mengbak van ‘n deegmenger. Maak ‘n holte in die middel van die hopie bestandele.
·         Meng die gesmelte botter en margarien mengsel deeglik met die karringmelk en eier mengsel in ‘n medium grote mengbak. ‘n Loperige, onegalige mengsel gaan vorm, dit is in orde.
·         Plaas die deegmenger bak in die menger en koppel die deeghaak aan die menger se as. Die platspaan (K-beater) gaan nie hier werk nie. Meng die droë bestandele op ‘n stadige spoed en voeg die vloeistof mengsel stadig by aan die kant van die menger bak tot alles bygevoeg is. Stop die masjien en krap al die trae, droë bestandele onder uit die mengerbak en skakel die masjien weer aan.
·         ‘Knie’ die deeg met die masjien totdat die deeg net bymekaar begin kom en ‘n bol vorm om die deeghaak. Voeg eetlepels volroom melk by die knieënde deeg indien daar nie genoeg vog in die deeg is om dit bymekaar te laat kom nie.
·         Verwyder die deeg vanuit die menger bak en keer dit uit op jou kombuis toonbank. Knie liggies met jou hande vir ongeveer 2 minute om die laaste droë bestandele by die deeg in te werk. Die deeg hoef nie glad en egalig te wees nie, maar daar moenie meer droë bestandele sigbaar wees in die deeg nie.



·         Knyp deeg af met jou vingers en rol dit in bolletjies omtrent die grootte van ‘n groot eier. Druk die bolletjies deeg in ‘n ovaal vorm en pak dit ‘regop’ in rye in jou voorbereide panne.
·         Meng ‘n eier en 1 eetlepel water deeglik en verf dit oor die rou beskuit. Probeer om nie die eier vloeistof by die kant van die pan (of tussen die rou beskuite in) af te laat loop nie – dit neig om die gaar beskuit te laat kleef aan die panne t.s.v. die smeerlaag onder in die pan.
·         Bak 55 – 60 minute in ‘n statiese oond of 45+ minute in ‘n konveksie oond.
·         Die gaar beskuitkoek sal begin wegtrek van die wande van die pan sodra dit gereed is. Die klop-op-die-kors-metode is hier nie betroubaar nie, want die gebak rys nie sodanig uit om ‘n ligte tekstuur soos brood te ontwikkel nie. Brood ‘klop’ lekker en laat jou onder geen illusie sodra dit gaar is nie.



·         Haal die panne gaar beskuit uit die oond en laat dit heeltemal afkoel tot kamer temperatuur voor jy die panne versigtig omkeer om die beskuitkoek uit te haal. Plaas ‘n groot, draad afkoelrakkie (of bord) oor elke pan voor jy dit omdraai – daai beskuitkoek is broos en jy gaan dit nie heel hou in jou hande met die vangslag nie.



·         Breek die beskuite versigtig uit en pak dit in oondpanne. Jou huisgenote gaan op hierdie punt lastig wees. Wees hulle genadig en gee elk ‘n nat beskuit sodat die gekerm kan bedaar.
·         Droog die beskuite oornag by ±80°C in ‘n statiese oond of oor 4 ure by 90°C in ‘n konveksie oond.
·         Hou jou huisgenote se bewegings fyn dop, want beskuite gaan ‘vanself’ verdwyn uit die oond.
·         Laat die droë beskuit afkoel tot kamer temperatuur voor jy dit verpak in koekblikke of deeglik seëlende plastiek houers.
·         Steek die beskuit weg anders hou dit nie lank nie.


Kommentaar:
·         Maak jou eie bruismeel: 5ml bakpoeier per 1 koppie / 140g koekmeel. Sif die meel en bakpoeier ten minste twee maal saam.

·         Gebruik regte botter en Stork se volvet margarien spesifiek bedoel vir bakwerk. Botter is duur, maar verleen ‘n onvergelykbare smaak aan die finale produk – vandaar die om die helfte botter en volvet bakkers-margarien. Moenie suinig wees met die gehalte van die margarien nie. Goedkoop margarien neig om hoër smeltpunt olies te gebruik en die ‘kleef’ dan aan die verhemelte om daai vetterige gevoel te gee. Onnodig onaangenaam.

·         Gebruik maar strooisuiker as versoeter ten spyte van die wysheid dat gewone wit- of bruinsuiker goed genoeg was vir ons oumas. Hierdie deeg het ‘n lae vog inhoud en gewone suiker gaan sukkel om op te los. Die onopgeloste suiker meng in met die voorkoms en tekstuur van die finale produk.

·         Jy kan die deeg met die hand knie indien jy nie ‘n menger het nie, maar dit gaan harde werk verg. Of sleep jou eggenoot / groter helfte by om te kom help. Die deeg het nogal ‘n sensuele tekstuur (en gawe aroma) as dit uiteindelik bymekaar kom.

·         Die vlapoeier verleen ‘n ekstra dimensie aan die smaak van die beskuit. Dit is (vir my, altans) asof die gewone vanielje ekstrak nie genoeg ‘diepte’ het nie.


© RS Young, 2017