Pa het hierdie storie net een maal in my teenwoordigheid vertel. Hy het
nie maklik stories ten koste van homself gedeel nie en ek vermoed my ietwat
oneerbiedige gegrinnik was een te veel vir sy fyn nerfie. Sien, Pa was ‘n swart-of-wit,
reg-of-verkeerd-ongeag-die-gevolge soort mens wat snydend kon uitdeel, maar
moeilik ontvang het. Gevolglik was sy mense verhoudinge kompleks, maar dié is
‘n storie vir ‘n ander dag.
—
o o O o o —
Hardkoppigheid is die direkte nalatenskap van ons familie se Skotse
voorsate. My oorlede vader, Oom Eddie, was veral goed toegedeeld hiermee. Hy
was soms halstarrig-hardkoppig. Dikwels het hierdie kenmerk natuurlik die lewe
vir homself, en die mense rondom hom, moeilik gemaak. So af en ‘n vêraf toe het
hierdie streek gesorg vir onverwags komieklike voorvalle.
Soos die slag toe my jonger broer klaar gemaak het met universiteit en
hy en sy trawante hul woonstel in Sunnyside moes ontruim. Destyds, in daardie
vergange era, was Synnyside nog ‘n redelik veilige voorstad en immergewild
onder die studente. Die voorstad was immers mooi sentraal gelee: naby Tukkies,
tussen flieks, kerke, kroëe, teaters, kopskit hole en ‘n horde olierige take away
gaatjies. My onwrikbare oortuiging is steeds dat Johannes Kerkorrel se Gee
Jou Hart Vir Hillbrow was eintlik vir die Sunnyside van daardie era geskryf.
Vandag is dit . . . anders.
Oom Eddie het in daardie dae (dis nou voor die RDP die ding kom haal
het) nog sy verslete 1982 Isuzu KB bakkie met die pasmaak, ekstra groot laaibak
gery. Jare se stowwerige, sinkplaat plaaspaaie het daardie ou bakkie omtrent
net soveel karakter gegee soos wyle Oom Jan Spies. Dit het nie ‘n genie geverg
om die voertuig te eien as ‘n plaasbakkie nie. En dan het die stewige omie
agter die stuur wiel nog ewe gepas heel boererig gelyk met sy blokkieshemp,
kakie kortbroek en Grasshopper skoeisels.
En daardie bakkie en sy bestuurder was ‘n magneet vir al die minder
suksesvolle lede van ons samelewing: dronkies, boemies, bedelaars, rylopers,
smouse, straatpredikers, werkloses, ens. Boonop ook ‘n iedere en ‘n elke
entrepeneur wat ’n gulde geleentheid waargeneem het om goedkoop in die
vervoerbedryf in te breek. Die omie kon tog sekerlik nie baie vir daai ou
bakkie wou gehad het nie.
Terwyl broer en trawante hul karige meubelement afdra, sit Oom Eddie
onder in die bakkie. Oom Eddie vervul vandag die rol van vaderlike
vervoerkontrakteur. Die bakkie – en vir-ingeval sleepwa – is op die geel streep
voor die gebou geparkeer. Hulle laai mos. Boonop verdra sy enkel nie meer
trappe nie en die bakkie se slotte is so uitgeslyt dat jy die ding kan oop- en
aansluit met ‘n platpunt skroewedraaier.
Die plankplat, poenskop geskeerde meisie met die verkreukelde, rookvaal
sweetpak kom staan by Oom Eddie se venster.
“Asseblief, kan Oom my help?”
Oom Eddie se eie omstandighede was destyds maar self minder rooskleurig.
Kort tevore het sy dobbelspel met uitvoer appelkose in die Oos Kaap uiteindelik
misluk en moes hy die beste van ‘n slegte saak maak voor hy alles sou verloor.
Hy en Tannie Eddie het Saterdag oggende herverpakte en self geproduseerde
groente gesmous op die Boeremark toe die nog oorkant die WNNR se hoof ingang gehou
was. Ten spyte van sy situasie, was hy nooit skaam om te help nie. Hy het egter
net die gehelp wat hulself wou help. Die res het ‘n koue skouer ontvang – soms
kortaf, soms minder elegant.
“Ek help net dames.”
“Maar Oom, ek is ‘n dame!”
Oom Eddie se logika is onwrikbaar:
“Nee, jy is nie. Jy dra dan ‘n hemp en ‘n broek!”
“Ek belowe Oom, ek is ‘n meisie!” weerkaats dit desperaat.
“Nee, ek glo jou nie.” haak Oom Eddie halstarrig vas.
Dit raak nou ‘n beginselsaak en die meisie besluit klaarblyklik dis tyd
om die groot kanonne uit te haal, lenig soos wat hulle is. Sy gryp daai
toegeritste sweetpakbaadjie en t-hemp vas aan weerskante van die ritssluiter en
ruk dit op tot bo-oor haar kop so hoog as wat sy kan.
“Kyk Oom,” kom dit gedemp maar desperaat deur die sweetpak: “ek HET
tieties!”
© RS
Young, 2017